Die Pinotage Assosiasie bied weer met trots n opelug konsert en piekniek by Neethlingshof op 5 Maart 2020 aan. Die aand beloof om weer n hoogtepunt in die Wynland te wees met lekker kos, goeie wyn en vertonings deur  Afrikaanse musiek legendes soos  Anton Goosen, Schalk Joubert, Valiant Swart en Retief Viljoen.

Met vanjaar se  wynoes opdreef en n wonderlike gevoel van afwagtig wat in die Wynland  heers, is dit weer tyd vir die jaarlikse Pinotage konsert by Neethlingshof. Die konsert word vanjaar op die vooraand van die Woordfees gehou en dus kan  meer besoekers aan Stellenbosch hierdie fantastiese aand ook kom geniet.

Retief Viljoen , bekend vir liedjies soos ‘Droomvanger’  en ‘Soos die wind’ , gaan die konsert open en gaste vermaak met sy bekende liedjies.

Hy gaan gevolg word deur die legendariese Valiant Swart wat die gaste gaan trakteer met sy liedjies wat oor drie dekades strek.

Daar heers ook groot opgewondeheid om weer vir die liedjieboer , Anton Goosen , en Schalk Joubert saam op die verhoog te sien waar hulle n fees van Afrikaanse liedjies gaan sing. Goosen het onlangs veertig jaar in die musiek bedryf gevier en sy tydlose liedjies gaan een van die hoogtepunte van die aand wees.

Heerlike kos en wyn gaan te koop aangebied word , maar besoekers is ook welkom om hul eie piekniek-mandjies met kos te bring (maar geen eie alkoholiese drankies mag ingebring word nie)

 

Die koste beloop R150  (aanlyn verkope en R180 by die hek) en kinders onder 12 se toegang is gratis.

Kaartjies beskikbaar by Quicket – of by Neethlingshof se Proelokaal.

 

Kom geniet hierdie familie vriendelike musiek en kos fees saam met Pinotage en Afrikaanse musiek legendes.